Nasionaal-Sosialisme is 'n radikale totalitêre politieke ideologie wat deur ekstreem-chauvinistiese nasionalisme, revisionisme, sosiaal-darwinisme, anti-intellektualisme, anti-kommunisme, anti-liberalisme en anti-semitisme gekenmerk word. Dit het sy wortels in die sogenaamde völkische Bewegung, 'n radikaal-nasionalistiese en anti-semitiese beweging wat in die vroeë 1880's in die Duitse Keiserryk en in Oostenryk-Hongarye ontwikkel het. Ná die Eerste Wêreldoorlog het dit vanaf 1919 'n selfstandige politieke beweging in Duitssprekende gebiede van Europa geword. Net soos die fascistiese beweging in Italië het Nasionaal-Sosialiste die demokratiese bedeling, wat in die Duitse Ryk met die Grondwet van Weimar gevestig is, summier verwerp ten gunste van die skepping van 'n outoritêre leierstaat.
In teenstelling met Italiaanse fascisme is Duitse Nasionaal-Sosialisme gekenmerk deur ekstreme rassisme, anti-semitisme en die stelselmatige uitskakeling en selfs fisiese vernietiging van politieke teenstanders en hele groepe wat as rassies minderwaardig geklassifiseer is. Hierdie radikaliteit het veral tot uiting gekom in die georganiseerde vervolging van Jode en Sinti en Roma. Ook het die Nasionaal-Sosialistiese ideologie daarna gestrewe om alle aspekte van die menslike lewe, insluitende kuns, te oorheers, terwyl die kunslewe in fascistiese Italië deur 'n hoë graad van pluralisme gekenmerk is. Nasionaal-Sosialisme was 'n unieke verbinding van moderne massa-organisasie met 'n verheerliking van menslike ongelykheid wat tot uiting gekom het in 'n strewe na mag en geweld asook Duitse selfoorskatting wat alle alliansies met gelykgesinde bewegings in ander Europese lande ondermyn het.
Onder leiding van Benito Mussolini het Italiaanse fascisme in 'n regs-konserwatiewe diktatuur ontaard, terwyl Adolf Hitler se bewind in Duitsland aggressief en radikaal geword het. Hitler se buitelandse beleid het gelei tot die ondergang van die Nasionaal-Sosialisme in Duitsland.